Silwer Valke Span 71.

Die Silwer Valke is die Suid-Afrikaanse Lugmag se kunsvliegspan en is in 1967 gestig om die vliegvernuf van die SALM-vlieëniers aan die publiek ten toon te stel en werwing te bevorder. Oor 'n tydperk van 43 jaar het die Silwer Valke al meer as 600 publieke vertonings gelewer. Die span is gebaseer op Lugmagbasis Langebaanweg en vlieg tans vyf Pilatus PC-7 'Astras', die lugmag se basiese opleidingsvliegtuig.
Die huidige span, Span 71, vlieg al sedert Januarie 2011 saam en het sedertdien al 16 vertonings gelewer. Dit is ook die eerste keer in die geskiedenis van die span dat 'n vrouevlieënier vir hulle vlieg. Verlede jaar het die Silwer Valke wêreldwyd aansien geniet deurdat hul vertoning by die Wêreldbekeropening gebeeldsend is na bykans twee miljard mense. Die span het kort daarna Italië besoek en het sodoende nog meer internasionale blootstelling gekry.
Span 71 bestaan uit die volgende lede:
Kaptein Roy Sproul (Valk 1 en spanleier)
Kaptein Heybrech van Niekerk (Valk 2)
Kaptein Buti Tsebe (Valk 3)
Kaptein Gerhard Lourens (Valk 4)
Majoor Beau Skarda (Valk 5 en solis)
Kaptein Jesse Ramaisa (Veiligheidsoffisier)
Luitenant Jacques Poolman (Skakelbeampte)
Majoor Deon van Eeden (Tegniese Offisier)
Benewens die vlieëniers is daar 'n bekwame span van agt grondpersoneel wat verseker dat die vliegtuie in puik vliegtoestand voor vertonings is. Besoekers aan die Newcastle Lugskou kan uitsien na twee opwindende vertonings deur die Silwer Valke wat hulle beslis na hul asems sal laat snak. Hierdie is die Silwer Valke se eerste besoek aan Newcastle.
Meer inligting oor die Silwer Valke is verkrygbaar op www.silverfalcons.co.za of op die 'Silver Falcons Aerobatic Team' Facebook-blad.
Vriendelike groete
Kapt Gerhard Lourens (Valk 4)
Silwer Valke
SA Lugmag